UCT Private Academic Hospital
UCT Private Academic Hospital

+27 (0)21 442 1800

NEWS INDEX

Histerektomie kan so vermy word

01 March 2014
Baarmoeder-fibroïedembolisering

Baarmoeder-fibroïedembolisering

Nuwe behandeling vir fibroïede

Sowat 20% van vroue het baarmoeder-fibroïede – nie-kwaadaardige groeisels in die baarmoeder se spierwand. Dis dikwels klein en jy weet nie eens daarvan nie. In sowat 20% van gevalle moet dit wel behandel word, want dit groei soms en kan aggressief versprei. Dit kan die oorsaak wees van swaar bloeding, erge menstruasiepyn en onvrugbaarheid.

Behandeling

Die simptome kan behandel word, bv. met pynstillers en yster-aanvullings, maar dit het nie ’n direkte uitwerking op die fibroïede self nie. Uiteindelik moet baie vroue vir sjirurgie gaan.
Dis deesdae die algemeenste rede vir ’n histerektomie. Tog het jy ’n ander keuse, sê Dr. Gary Sudwarts, spesialis-radioloog by die Groote Schuur-Hospitaal en die UK Private Akademiese Hospitaal in Kaapstad. Volgens hom het ’n histerektomie ’n plek, maar verkieslik as ’n laaste uitweg. Dit kan meestal vermy word.

Sny dit uit

Met ’n miomektomie word die fibroïede sjirurgies verwyder. Anders as met ’n histerektomie, behou jy jou baarmoeder. Hoewel dit ’n voordeel is as jy nog kinders wil hê, kan daar komplikasies wees, soos bloedverlies (’n algemene probleem as die fibroïede groot is) en infeksie, wat beteken dat jy dalk ’n volledige histerektomie moet kry. (Jy verloor dan jou baarmoeder en eierstokke.) Daar is ook ’n kans dat die fibroïede weer kan groei. Dikwels kan nie almal bereik word nie en sommige bly agter, sê hy.

Sit ’n ‘proppie’ in

Met ’n nuwe en doeltreffende prosedure, baarmoeder-fibroïedembolisering (UFE), bly jou baarmoeder behoue en word al die fibroïede met een prosedure behandel. Dit word gedoen by spesialishospitale (wat die nodige toerusting het) en die meeste groot mediese fondse betaal daarvoor.

Die prosedures

’n UFE word in ’n teater deur ’n radioloog met die toepaslike spesialisopleiding gedoen, verduidelik Dr. Sudwarts, wat dit reeds sedert 2010 doen. Jy kan kies of jy wakker wil bly of ligte narkose wil hê. Die radioloog lei ’n baie smal buisie deur ’n slagaar in jou bobeen na die are wat die baarmoeder van bloed voorsien. Dit word dan met klein ‘‘proppies’’ (particles) geblokkeer. Omdat dit die fibroïede van hul voedingsbron afsny, krimp dit die volgende paar maande beduidend. Die snytjie in jou vel is so piepklein dat steke nie eens nodig is nie. Dit verdwyn ná ’n paar weke. ’n Dowwe pyn in jou laer bekken is gewoonlik die enigste teken dat jy ’n mediese prosedure gehad het en jy kan pynpille daarvoor neem. Jy gaan huis toe sodra jy gemaklik en sonder pyn is, meestal binne ’n dag of twee. Jy kan gewoonlik binne ’n week teruggaan werk toe en jou normale aktiwiteite hervat, sê hy.

Voordele bo SJIRURGIE

  • Baie minder komplikasies. Volgens Dr. Sudwarts is jou kans op groot komplikasies sowat drie keer minder as met ’n histerektomie.
  • Verblyf in die hospitaal is korter.
  • Die verbetering in jou lewensgehalte is dieselfde of selfs beter as ná ’n histerektomie.
  • Jy behou jou baarmoeder en eierstokke.

Risiko’s

  • Soms krimp die fibroïede nie genoeg nie en die simptome kan terugkeer. Die prosedure moet dan dalk herhaal
    word, of ’n mediese (soos die gebruik van hormone) of sjirurgiese opsie moet gekies word.
  • Soos met enige ander mediese prosedure kan jy ’n infeksie kry, wat met antibiotika behandel word.
  • Die vlakke van die vroulike hormone (estrogeen en progesteroon) kan verlaag, maar herstel binne tien maande weer. Die moontlikheid bestaan dat jy ná die prosedure deur die menopouse gaan, maar dit gebeur meestal by vroue bo 45. Die risiko vir ’n vroeë menopause ná UFE is nie groter as ná sjirurgie (miomektomie) nie.
  • ’n Histerektomie kan by uitsondering steeds nodig wees.

Fibroïede en swangerskap

Dis wel moontlik om ná UFE swanger te raak en daar is baie suksesvolle gevalle aangeteken, sê Dr. Sudwarts. Daar word tans internasionaal daaroor navorsing gedoen. Tog word ’n miomektomie meestal steeds verkies wanneer ’n vrou nog wil swanger raak, maar baie vroue het teveel fibroïede, of dit is te groot vir dié prosedure. As ’n miomektomie ’n te groot risiko is, is UFE ’n baie goeie keuse, sê hy.

Vir meer, besoek WWW.FIBROIDS.CO.ZA

Deur Lydia van der Merwe - Sarie - Maart 2014